Gebied Aktiwiteite

Blouberg se strand strek noodwaarts tot by Melkbosstrand en is alombekend vir sy skouspelagtige sonsondergange en prentjiemooi-uitsig oor Tafelberg. Die hele kuslyn is 'n idilliese oase vir stappers, fietsryers, watersportliefhebbers en hengelaars.

Atlantic Holidays is binne loopafstand van die imposante nuwe Big Bay strandoord en winkelkompleks met sy eksotiese strandrestaurantjies. Dié strand is die veiligste en gewildste swemgebied in die omgewing en ook ideaal vir pieknieks en pretspeletjies op die strand.

Verder noordwaarts word die reisiger begroet deur die tipiese weskusse gasvryheid van klein kusdorpies en vissersgemeenskappe soos Yzerfontein, Langebaan, St. Helenabaai en Paternoster waar kreef en seekosgeregte 'n alledaagse dis is. Suidwaarts omring ewe skouspelagtige strande soos Clifton, Kampsbaai, Houtbaai, Kommetjie, Simonstad en Vishoek die Kaapse Skiereiland - elk met asemrowende uitsigte oor die see en bergreeks wat bokant hulle uittroon.

Elke kusdorpie het sy eie, unieke bekoring en aantrekkingskrag.

Ander bekende toeriste-aantreklikhede en moet doen-aktiwiteite binne 'n radius van 100 km vanaf Blouberg sluit in:

* Tafelberg : Daar is verskeie klim- en staproetes na die kruin, terwyl die kabelkar 'n maklike oplossing vir onfikses bied. Die omvattende uitsig oor die Kaapse Skiereiland is 'n ongelooflike ervaring.

* Die Kirstenbosch Botaniese Tuin met sy unieke inheemse fauna en flora is beslis 'n besoek werd.

* Walvis-kyk. In seisoentyd (Junie tot November) kan die bekende Suidelike Noorkapper-walvisse oral langs die kus gesien word.

* Rots- en strandhengel : Die weskus is 'n vissermansparadys en rots- en strandhengelaars op Blouberg katrol gereeld die Kaap se bekende galjoen, kabeljou en steenbras in. Diepsee-hengelaars kan by Kaapstad Hawe lyn natmaak.

* 'n Besoek aan die geskiedkundige Distrik Ses in die hartjie van Kaapstad, asook 'n bootvaart na Robbeneiland is tegelyk 'n unieke en leersame belewenis.

* Watersport-liefhebbers kan kwalik 'n meer idilliese oord as Bloubergstrand of Muizenberg kry vir seil- en vlieërplankry.

* Wynroete: Besoek 'n paar van die Kaap se wêreldbekende wynplase en -kelders langs die Wynroete vir 'n unieke wynproe-ervaring.

* Adrenalien-verslaafdes kan die gevreesde Witdoodshaai van nader bekyk by enige van die haaihok-duikplekke langs die kus of by die Twee Oseane Akwarium in die V&A Waterfront.

* Die bekende World of Birds-reservaat in Houtbaai is 'n paradys vir voëlkykers. Langs die weskus is ook verskeie broeiplase waar seldsame voelspesies in hul natuurlike habitat bekyk kan word.

* Kaapstad spog met 'n polsende naglewe en 'n wye verskeidenheid van kuns en vermaak. Die V&A Waterfront en Grand West Casino is gewilde uithangplekke vir naguile.