Huis

Atlantic Holidays bied 'n sentrale basis aan die Kaapse kuslyn vanwaar besoekers met gemak die ongerepte natuurskoon en talle besienswaardighede in en om Kaapstad kan verken.

Dié ruim selfsorg-vakansiehuis en -woonstel is 'n hanetreetjie van Blouberg se uitgestrekte, wit strande en skuimende branders en spog met 'n panoramiese see-uitsig oor twee van Suid-Afrika se bekendste bakens - Tafelberg en Robbeneiland. Dit is die ideale vakansie-huisvesting vir besoekers wat die Kaap in al sy glorie wil leer ken.

Die Atlantiese Oseaan en sy skilderagtige kuslyn is skaars 5 minute te voet van die huis af. Hier kan jy die branders hoor klots en die walvisse en dolfyne voor jou in die water sien speel. Of sit agteroor op die stoep en kyk hoe die son in 'n skouspel van kleur agter die horison wegsink. 'n Halfuur se rit suidwaarts bring jou na die hartjie van die Moederstad en die bekende V&A Waterfront - 'n paradys vir inkopies en vermaak. 'n Klipgooi verder wink die indrukwekkende Grand West Casino met sy talle eet- en vermaakplekke.

Atlantic Holidays is ook ideaal geleë vir watersport soos vlieër- en seilplankry, kano- en kajakroei, rots- en strandhengel, branderry en swem. Die bekende Big Bay strandoord en winkelkompleks met sy talle buitelug-restaurante is net 'n verfrissende stappie strandlangs ver. Daguitstappies na enige van die Kaap se talryke besienwaardighede kan maklik onderneem word - van die wêreldbekende wynroete tot die ongerepte weskusstrook met sy welige veldblomlandskap.